Dink aan die vrou van Lot

Hierdie is een van die kortste versies in die Bybel. Lukas 17:32 (OAV):“Dink aan die vrou van Lot”.

Dit is ook ‘n vreemde vers omdat ons gewoonlik aangemoedig word om aan mense te dink wat grootheid bereik het of wat groot werke vir God gedoen het. Maar Lot se vrou het niks van daardie aard gedoen nie. Om die waarheid te sê, ons weet niks van haar en lees niks van haar tot die oomblik wat sy omdraai om te kyk hoe Sodom brand. Ons weet nie eens wat haar naam is nie – sy is bloot “die vrou van Lot”.

Lukas sê ons moet aan haar dink in die konteks van die waarskuwing dat die Here spoedig en skielik gaan terugkom. Lukas tref dan ook ‘n vergelyk tussen die tyd van Lot en die tyd van die Here se wederkoms. Hy meld spesifiek dat mense met hulle daaglikse lewens gaan voortgaan, salig onbewus daarvan dat skielik vernietiging hulle spoedig gaan oorval. Hy waarsku hulle dan teen die gevaar om soos Lot se vrou terug te draai (Lukas 17:28-32).

Ek het oor hierdie vrou begin dink. Wie was sy en wat was daar aan haar wat so verskriklik was dat die Here haar vir ewig as ‘n negatiewe voorbeeld voorhou?

Ons lees in Genesis 13 dat Lot al nader en nader aan Sodom getrek het, totdat hy uiteindelik binne in die bose stad gewoon het. In Genesis 19:1 lees ons dat hy in die poort van Sodom gesit het, wat op die oog af laat blyk dat hy op die bestuur van hierdie verskriklike plek gedien het. In 2 Petrus 2:7-8 lees ons egter: “En tog het Hy vir Lot gered, 'n eerbare man wat gebuk moes gaan onder die losbandige lewenswyse van sedelose mense. Terwyl hy tussen hulle gewoon het, moes hierdie eerbare man dag vir dag soveel van hulle gruweldade aanskou en sulke dinge aanhoor dat dit 'n foltering was vir sy opregte gemoed.” Daar blyk ‘n teenstrydigheid te wees in Lot se keuse om na die stad te trek, totdat hy uiteindelik binne in die stad woon, terwyl hy hom gekwel het oor die boosheid in die stad. Hoekom het hy nie net uitgetrek nie? Hoekom het hy in die eerste plek soontoe getrek? Miskien sal ons die antwoord by sy vrou kry. Miskien is dit juis sy wat gesmag het na die stadsliggies en miskien was dit ter wille van haar, en ten spyte van sy eie twyfel, dat Job in Sodom aangebly het.

Dit sal die kragtige houvas wat die stad oor haar gehad het verduidelik - dat sy dit nie kon agterlaat nie, selfs al het die engele haar fisies vanuit die stad verwyder. Die engele het spesifiek opdrag gegee: “Vlug vir jou lewe! Moenie omkyk nie!” (Genesis 19:17), maar “Lot se vrou het omgekyk” (Genesis 19:26).Sy kon haarself nie losmaak van die plesier, gemak en opwinding van die bose stad nie. Selfs al is haar liggaam vanuit Sodom gesleep, het haar hart daar gebly en het sy met verlange en versugting teruggekyk.

Baie jare later sou die kinders van Israel dieselfde gedoen het. Hulle het voortdurend terugverlang na Egipte en die dinge wat hulle daar agter gelaat het (Numeri 11:5, 14:3-4). Hulle het duidelik die les van Lot se vrou vergeet en net soos sy, was hulle ondankbaar teenoor die Here vir Sy redding. Hulle wou veel eerder die sinlike plesier van hulle voormalige tuiste teruggehad het. Daarom word ons in die Nuwe Testament daaraan herinner dat ons aan Lot se vrou moet dink en dat ons nie moet terugkyk na die dinge waaruit en waarvan ons gered is nie. Dit bly egter ‘n ongelukkige kenmerk van die mens dat hy alewig terug wil gaan na die dinge waaruit hy gered is. Dit is omdat ons geneig is om die slegte dinge te vergeet terwyl ons slegs die mooi en die lekker van ons vorige lewens onthou. Die Israeliete het die swepe van die slawedrywers vergeet en net die vis, prei, uie en knoffel wat hulle in Egipte geëet het, onthou. Op dieselfde wyse vergeet ons van die skuld, skaamte, bande en frustrasie van ons lewe voor Christus, terwyl ons net die verbygaande genot van die sonde onthou.

Lot se vrou het nie werklik terug gedraai nie, sy het net terug gekyk. Dit was egter so ernstig in God se oë dat Hy haar onmiddellik doodgemaak en in ‘n soutpilaar verander het. Partykeer dink ons dat dit nie so ernstig is om (met verlange) terug te kyk nie, net solank ons nie werklik terugdraai nie. Maar vir die Here is die terugkyk baie, baie verkeerd. Die rede is omdat, alhoewel ons met ons voete voortgaan om in die regte rigting te loop, ons harte steeds in die wêreld is. Daardeur besoedel ons almal rondom ons met ons gebrek aan toewyding. Dit was maar ‘n klein groepie van die Israeliete wat teen die Here gemor het (Numeri  11:4-5). Op dieselfde wyse kan ‘n klein groepie gelowiges wat nie toegewyd is nie, die hele gemeente of groep van gelowiges ontmoedig.

Jesus het gesê: “Iemand wat die hand aan die ploeg slaan en aanhou omkyk na wat agter is, is nie geskik vir die koninkryk van God nie” (Lukas 9:62). Dit is ‘n baie sterk stelling maar dit bevestig God se oordeel oor Lot se vrou. Daar is doodeenvoudig nie ruimte by God se kinders vir mense wat voortdurend besig is om te mor en te kla terwyl hulle na die vervloë dae terugverlang nie. In Suid-Afrika is daar immigrante vanuit ‘n sekere land wat as die “whenwe’s” bekend staan, juis omdat die frase wat hulle die meeste gebruik, terugverwys na die tyd toe hulle nog in hulle land was: “when we … were back in the old country”. Geestelike “whenwe’s” praat miskien nie so dikwels oor hulle vorige lewe nie, maar hulle dink verseker genoeg daaraan. God sê: “maar as hy terugdeins, het Ek aan hom niks meer nie’. Maar ons is nie van dié wat terugdeins en verlore gaan nie; nee, ons glo en ons sal lewe” (Hebreërs 10:38-39).

Jesus staan in sterk teenstelling met Lot se vrou. Hy het Sy goddelike heerlikheid agtergelaat en is as ‘n mens gebore. Hy het verseker baie gehad om na terug te kyk. Tog het Hy Sy oë vas en seker op Jerusalem en die kruis gerig (Jesaja 50:6; Lukas 9:51). Paulus het dieselfde vasberadenheid getoon om sy werk te voltooi en elke aspek van sy roeping te vervul, maak nie saak wat die prys daarvan sou wees nie. Laat ons daarom ophou om te dink oor hoe goed en lekker dit in die wêreld was en hoe moeilik dit is om die Here te dien. Laat ons ook ons oë rig op die hoop voor ons, terwyl ons vergeet van wat agter ons is. Laat ons onsself uitstrek na die wenpaal in die hoë roeping van God in Christus Jesus (Filippense 3:13-14).

Dink aan die vrou van Lot.

Mense wat van die besmettinge van die wêreld vrygekom het deurdat hulle ons Here en Verlosser, Jesus Christus, leer ken het, en wat weer daarin vasgevang en daardeur oorweldig word, is aan die einde slegter daaraan toe as aan die begin. Dit sou vir hulle beter gewees het as hulle die wil van God nie leer ken het nie as dat hulle dit wel leer ken het en daarna afgewyk het van die heilige gebod wat aan hulle oorgedra is. Van hulle is die spreekwoorde waar: "'n Hond gaan terug na sy braaksel toe" en: "'n Vark wat gewas is, gaan rol weer in die modder” (2 Petrus 2:20-22).